Sondag 11 Januarie 2015

"Lost in Translation" : 6 Feb 2015 om 19:00


'n Paar van die onderwerpe wat ons gaan aanraak:

  • Hoekom het ons 66 boeke in ons Bybel, en wat van die ander boeke wat weggelaat is?
  • Hoekom is sommige Bybelverse weggelaat in sekere vertalings?
  • Wat van die nuutste Afrikaanse vertaling, "Die Bybel: 'n direkte vertaling"
  • Ons kyk ook na 'n paar hoogtepunte in die geskiedenis van die Bybel.  Kom hoor
    • hoe God 'n goddelose koning se geld gebruik om Bybelverspreiding te befonds,
    • hoe Tyndale se gebed op die brandstapel verhoor is,
    • watter Bybelvertaling Jesus en Paulus gebruik het,
    • hoekom die KJV woorde soos "thee", "thou" en "thy" gebruik. 
  • Ons gaan gesels oor die goeie en slegte punte van 'n paar van die moderne vertalings wat vandag op die mark is.
  • Wat hou die toekoms vir ons in, in terme van Bybelvertalings?

Maandag 05 Januarie 2015

Exodus : Gods and Kings


Aan die einde van 2014 is die fliek "Exodus : Gods and Kings" vrygestel.  IMDB.com gee die volgende kort samevatting van die storielyn.
  • Epic adventure Exodus: Gods and Kings is the story of one man's daring courage to take on the might of an empire. Using state of the art visual effects and 3D immersion, Scott brings new life to the story of the defiant leader Moses as he rises up against the Egyptian Pharaoh Ramses, setting 600,000 slaves on a monumental journey of escape from Egypt and its terrifying cycle of deadly plagues.
    Written by 20th Century Fox
 Die fliek is gedeeltelik geskryf en regisseur deur die alombekende Ridley Scott.  Ridley Scott is ondermeer bekend vir rolprente soos Gladiator (2000), Black Hawk Down (2001) en Robin Hood (2010).  Ridley Scott is klaarblyklik lief daarvoor om ou verhale uit die Ou Tyd te vat en op 'n baie kleurvolle manier voor te stel op die silwerdoek.

In Exodus: Gods and Kings het Ridley Scott probeer om die verhaal van Moses en die uittog uit Egipte oor te vertel.

Die Goeie

Soos in Ridley Scott se vorige rolprente, word baie van die gebeure in die verhaal uiters goed voorgestel.  Mens kan amper die bloed in jou koeldrank en die sprinkane in jou hare voel wanneer hy die Tien Plae voorstel.

Die trek deur die Rooi See was vir my persoonlik nogal spesiaal.  Net voor die see weer toemaak, is daar 'n toneel waar die water aanstorm op 'n perd wat vir 'n mens behoorlik hoendervleis gee.


Die Slegte

Ongelukkig het Ridley Scott en sy medeskrywers te ver gegaan met hul kreatiewe vryheid.  Dit is duidelik dat die skrywers gepoog het om die verhaal aan te pas om meer drama en konflik tussen die karakters te skep, en in die proses het die belangrikste aspekte van die Bybelse weergawe geheel en al verlore gegaan.

By verre die mees ernstigste oortreding, na my mening, was die feit dat die Here voorgestel word as 'n klein seuntjie.  Die gesprekke tussen Moses en die Here was geheel en al opgemaak en hou geen verband met dit wat ons in die Bybel lees nie.  

Daar is gereelde konflik in Moses se hart oor die feit dat die 'Here' hom telkens nie antwoord wanneer hy Hom nodig gehad het nie.  Wanneer 'God' wel met Moses praat, was daar geen sprake van die Heilige God wat ons van lees in Exodus nie (onthou dat Moses sy skoene moes uittrek?), maar Moses redeneer met 'God' asof hulle gelykes is.  

Opsomming

Vir my was dit uiters hartseer dat die skrywers besluit het om die identiteit van die Here so te verkrag, veral siende dat die kernverhaal van Exodus juis daaroor gaan, dat God Homself aan Sy volk openbaar.  Die manier wat die rolprent God voorstel grens aan godslastering en was totaal onnodig, en vir hierdie rede kan ek nie die rolprent aanbeveel nie. 


Bybelse Perspektief

Die herhaal van Exodus se sentrale boodskap gaan juis oor die identiteite van verskeie rolspelers.  Dit is asof die Exodus 1 vir ons 'n ironiese inleiding gee op wat te wagte is.  

Soos ons goed weet uit die geskiedenis van Egipte, en ook soos in die rolprent gesien, het die Farao van Egipte uit sy pad uit gegaan om vir homself 'n ewige naam te bou.  Monumente en grafte is vir hom opgerig, sy verhale van oorwinnings en groot dade was teen mure van tempels, huise en piramides opgeskryf.  En ten spyte van al hierdie moeite, weet ons vandag nogsteeds nie watter een van die Faraos die Bybel praat nie.  Die navorsers het verskeie kandidate al navore gesit, maar ons het geen manier om te weet wie presies hy was nie.  Wikipedia lys agt potensieele kandidate (http://en.wikipedia.org/wiki/Pharaohs_in_the_Bible).  Hoe gebeur dit dat die belangrikste man van die tyd, wat dit sy lewensdoel gemaak het om sy naam vir ewig te vestig, se naam verlore gaan? 

Om net so bietjie meer sout in die wonde in te vryf, lees ons in Exodus 1 van twee Hebreeuse vroedvroue wat die Here meer gevrees het as vir Farao.  As een van hulle belonings het die Here hulle name en goeie dade neergeskryf in die Bybel, die mees-gelese boek in die geskiedenis van die mensdom.  Vandag, omtrent 5000 jaar later weet ons nogsteed van Sifra en Pua, die twee Hebreeuse vroedvroue, maar van die grote Farao weet ons nie eers sy naam nie.  Dit, per definisie, is ironies.

Maar dit is in Exodus 6 wat ons lees van een van die mees besondere gebeure in die Bybel.

(6:1) Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. 
(6:6) en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.
(Exodus 6:2-3, 7 AOV)
Voor Exodus 6 lees ons dikwels dat mense verwys na God as 'Die Almagtige God, Skepper van die Hemele en Aarde'.  Hy was die God wat alles gemaak het, en alles behoort aan Hom.  Die idee van 'n Skepper-God was uniek gewees vir sy tyd, en tot vandag toe is dit 'n besondere titel veral vir die wat die wetenskappe bestudeer.

MAAR, God stel Homself bekend aan Moses en die Hebreërs met 'n NUWE naam.  Hy is nou nie meer net 'Die Almagtige God, Skepper van die Hemele en Aarde' nie, van hier af is Hy ook 'Javeh, die Here JULLE God'.

Wat 'n wonderlike voorreg het hulle nie gehad as 'n nasie van slawe nie, om die Skepper-God te kan hê as hulle God!  Die God wat alles gemaak het, kies vir Hom 'n nasie van slawe uit onder al die nasies van die aarde, en Hy sê: "Ek is die Here JULLE God"!

Hierdie besondere gebeurtenis sou egter nog een keer later in die geskiedenis herhaal.  Ons lees in Exodus van die lammetjie wat geslag is, en die bloed wat aan die deurposte gesmeer is.  Hierdie was natuurlik 'n simboliek van die Messias wat eendag sou sterf aan die kruis as die Lam van God wat die sonde van die wêreld kom wegneem.  En net soos God Homself met 'n nuwe naam kom bekendstel het in Exodus, doen Hy dit weer met Jesus se koms.

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.
(John 1:12-13 AOV)
Die voorreg om 'n "kind van God" genoem te kan word is uniek tot die Nuwe Testament.  Terwyl Moses en Dawid Hom geken het as die God van Israel, die een wat hulle met 'n sterke hand uit slawerny gered het, kon hulle Hom nie 'Vader' noem nie.  

Die voorreg om Hom as Vader te ken is uitgehou vir elkeen wat uit God gebore sou word, nadat Jesus in ons plek die straf gedra het.

Nou daar is 'n verhaal wat werd is om oor te vertel...